Op 3 September 1900 na ‘n mislukte aanval op ‘n trein naby Heidelberg, is Danie Theron oppad na die plaas Elandsfontein in die Gatsrand, waar die res van sy verkennerskorps op hom wag. Met sy aankoms ontvang hy ‘n boodskap om by Welverdienstasie vir genl. Piet Liebenberg te ontmoet. Theron en Wynand Malan vetrek toe ook sommer dadelik. Liebenberg vra hulle toe om hom te help om ‘n Britse kolonne wat na Potchefstroom oppad is, aan te val. Hulle besluit toe om die Britte op 5 September op Jan Wolvaardt se plaas voor te keer.
Liebenberg sal die Britte van voor af aanval en laat skrik en voordat hulle tot verhaal kan kom sal Theron en sy manne hulle aan die flank aanval. Theron is al ‘n geruime tydjie in die omgewing besig en ken twee gesinne, die Wolvaardts en die Pienaars goed, aangesien sy kamp ook nie ver van die Pienaars se huis op Elandsfontein is nie.
Vroeg die oggend is op 5 September 1900 is Theron en sy verkennerskorps reeds in posisie. Hulle is goed vertroud met die terrein, hulle het gereeld van die watermeule op Elandsfontein gebruik gemaak om mielies te maal.
Na ‘n paar uur raak Theron ongeduldig. Van Liebenberg en sy mense is daar geen teken nie. Daar is reeds gerugte dat Liebenberg ‘n week tevore vir genl. De la Rey in die steek gelaat het tydens ‘n geveg op Commissiedrift. Liebenberg wat ‘n Potchefstromer is moet tog Elandsfontein ken dit is immers die bekende poskoetshalte.
Teen 8 uur kan Theron nie meer wag nie, hy wil gaan uitvind hoekom Liebenberg nog nie op die vyand losgebrand het nie. Theron neem ‘n artilleris, ene Nel met hom saam. Hulle ry toe in die rigting waar Liebenberg veronderstel is om te wees. Oppad soontoe gaan Theron eers by die Pienaars en die Wolvaardts se opstalle aan, om uit te vind of hulle iets van Liebenberg en sy kommando af weet. By die Pienaars steek een van die dogters ‘n roset met die Republikeinse kleure aan Theron se baadjie vas. Theron laat toe ‘n briefie vir Liebenberg agter. Toe hy by die rant aankom waar Liebenberg moes wees, weet hy dat Liebenberg hom inderdaad in die steek gelaat het.
Hulle klim toe teen die rant uit aan die suide kant van die pad waar die kolonne moet verby trek. Danie stuur toe vir Nel met die perde terug na die skuiling aan die voet van die rant.
Die hoofkolon beweeg in die vallei terwyl twee kleiner kolonne die flanke dek. Toe Theron die kruin bereik loop hy hom in sewe manskappe van die Marshall’s Horse vas. Hulle is die voorpunt van die Britse verkenners. Hy slaag net net daarin om die kruin van die rant voor hulle te bereik. Hy kan tog nie nou terugval nie en sonder om, te huiwer, skiet hy, elke skoot tel. Drie Britte sneuwel terwyl hy vier verwond.
Genl Hart se kolonne is op daardie oomblik min of meer 2 000 treë van die rantjie af. Hy laat bring die ses veldkanonne en die 4.7 duim skeepskanon in aksie. Hulle weet nie hoeveel Boere in die rantjie skuil nie. Die rantjie word heftig gebombardeer, maar Theron hou aan met skiet. Een van die ooggetuies het later vertel: “The shrapnel kept up an almost incessant hail, covering the wooded sides of the kopje with round white balls of smoke… and it seemed as if a golden crested wren could not have escaped it if it had been unlucky enough to be there.” Een van die bomme tref die teiken, ‘n klipskerf breek af en tref Theron teen die kop en bors, dit is dodelik.
Intussen het Nel sy posisie bereik, net toe die geweervuur skielik losbars. Hy kyk rond en sien dat die Britte feitlik op hom is en besluit toe dadelik om uit tejaag met Theron se perd aan die arm. Daar word van oral af op hom geskiet en later sal ‘n ooggetuie vertel dat hy nie weet hoe Nel dit reg gekry het om lewend daar uit te kom nie.
Die res van die verkenners hou die oprukkende Britte dop, van agter die rant, maar hulle het streng bevele om nie te skiet nie. Die Britte het op ‘n stadium byna in tussen die Verkenners ingemarsjeer maar op 4000 treë, swaai hulle weg en marsjeer voort. Die verkenners kan niks doen nie, hulle wag vir nuwe bevele van Danie Theron.
Intussen het die Britte opgemerk dat die geskietery van die koppie se kant af stil geraak het en besluit toe om ondersoek te gaan instel. Groot was hulle verbasing toe hulle die lyk van slegs een Boer vind. In sy sakboekie is die naam ‘Theron’ en op die geweer kolf is die naam ‘Otto’. Die moontlikheid is sterk dat dit die beroemde Theron kan wees.
Hulle neem die lyk na die Wolvaardt, waar die vrouens beaam dat dit wel Danie Theron is. Toegedraai in ‘n kombers saam met die soldate wat gesneuwel het, word hulle almal die volgende dag sowat drie myl verder tussen die plase Elandsfontein en Buffelsdoorns begrawe. Die Verkenners wat sedert die middag al onrustig op Theron se terugkeer gewag het, is verslae toe Nel die aand met die tyding by hulle opdaag dat Danie te oordeel na die skietery moes gesterf het.
Hulle stuur verskeie patrollies uit en kry die doodstyding by die Wolvaardts. Vir die korps is dit ‘n swaar slag. Na ‘n groot soektog kry hulle sy graf, nadat hulle die lyk uitgehaal het begrawe hulle hom op die 15de September tydelik in die Pienaars se familie begraafplaas. Op die 10de Maart 1903 is Theron se lyk weer opgegrawe en herbegrawe langs die van sy verloofde, Hannie Neethling, op haar Pa se plaas, Eikenhof, Kliprivier.