Marthinus Theunis Steyn
2/10/1857-28/11/1916
Laaste president van die OVS- regsman,staatsman en Volksman. Hy is in die Vrystaat gebore by Winburg. Hy het as regter van die OVS op 19/2/1896, die laaste president van die OVS geword.
President Steyn sou uit sy pad gaan om hom te beywer vir vrede. Toe dit egter duidelik word dat die Britse regering oorlog met die Transvaalse Republiek wou hê, en oorlog onvermydelik is, het hy hom gehou by ooreenkoms om in geval van oorlog, bymekaar te staan. Dit het hy gedoen tot die bittereinde.
Na President Kruger sy land verlaat het om in Europa steun te gaan soek, was President Steyn en Genl Christiaan de Wet, die siel van die Anglo-Boereoorlog en het hy baie stryd hehad met Transvalers wat vroegtydig wou oorgee. Hy het in die veld gebly tot 1902, maar was te siek om die Vredesonderhandelings by Vereeniging by te woon.
President Steyn het nooit die Vrede onderteken nie. Hy het op ‘n verhoog op 28/11/1916 terwyl hy die Oranje Vrouevereniging in Bloemfontein toegespreek het, inmekaargesak en gesterwe.
Hy lê begrawe by die Vroue-monument te Bloemfontein. Hy was 59 jaar oud toe hy dood is.
Stephanus Johannes Paulus Kruger
10/10/1825 – 14/7/1904
Laaste President van die ZAR. Hy het gevorder van skaapwagter tot President. Hierdie onverskrokke en ongekunstelde man het vanaf die Groot Trek tot met die Engelse Oorlog, die wel en weë van die Boerevolk meegemaak, eers as Kommandant van die Rustenburgse kommando, toe as Kommandant-Generaal van die ZAR voordat hy President geword het.
Kruger was betrokke by al twee vryheidsoorloë van die ZAR. Hy was die hart en siel van die weerstand, opstand en die uiteindlike oorwinning van die Eerste Vryheidsoorlog.
Hy is in Switzerland oorlede nadat die ZAR sy onafhanklikheid verloor het. Hy het gesê: “gebore onder die Engelse vlag, is ek nie van plan om daaronder te sterf nie.” Hy is teruggebring na Pretoria en hier begrawe in die Helde-akker op 16 Desember 1904. Voor sy dood het hy nog ‘n gesprek gehad met die verswakte President Steyn.
Wat sou dit vir die Boerevolk nie beteken het as iets van daardie ontmoeting, behoue gebly het!