Hierdie kamp is geopen September 1901 en die eerste 24 persone het by hierdie kamp gearriveer op die 13de September vanaf Pretoria. Sommig van die vroue in die Standerton Konsentrasiekamp is aangesê om briewe aan hulle mans op kommando te skrywe om oor te gee, wat hulle geweier het. Hierdie vroue is dieselfde dag nog aangesê om te sorg dat hulle na die Standerton stasie gaan sodat hulle op die trein gesit kan word na Merebank.
Uitsig oor die Merebank Konsentrasiekamp
Die kamp se behuising het bestaan uit Sinkkamers waarvan die vloere sand was en dit het gewemel van vlooie. Van die vroue het beskryf hoe die gras uit die klam grond, waarin die seewater opslaan, gegroei het. Daar was ook ‘n groot skool met klaskamers en alle kinders was verplig om skool by te woon.
In Maart 1902 was daar 8,350 inwoners in die Merebank Konsentrasiekamp. Die kamp is teen die voet van ‘n lae heuwel opgerig.
Die maand met die hoogste sterftesyfer was Desember 1901 met ‘n sterftal van 103 persone. Die totale sterftesyfer vir hierdie kamp was 471 persone, waarvan 384 persone was onder die ouderdom van 15 jaar en 87 persone bo die ouderdom van 15 jaar.
Op 20 Februarie 1902 skryf Mevrou Hendrina Margaretha Scheffer dat daar vroue van af Potchefstroom ingekom het en na Jacob’s gestuur is. ‘n Klomp vroue van die Merebank kamp het skelm na die Jacob’s kamp weggeloop. Met die terugkeer is hulle gevang en ongeveer 3 ure deur swartes opgepas en die aand moes hulle by die hek slaap.
Mevrou M.H. Beukes en haar kinders het natgereen by die kamp aangekom op die 15de September 1901. Teen die 19de September is hulle siek met Masels. Mevrou Beukes was so siek dat sy haar bewussyn verloor het en in Oktober maand eers weer haar bewussyn herwin het. Teen die tyd was haar jongste kindjie reeds 10 dae begrawe. ‘n Ander vrou het uit medelye haar kindjie geneem en versorg, maar na ‘n lang siekbed is die kindjie oorlede…
Die dood van Annie van der Walt is ‘n goeie voorbeeld van wat die mense in die kampe moes deurmaak. Annie van der Walt was reeds siek toe sy in die Merebank kamp aankom vanaf Klerksdorp in ‘n oop veetrok. Sy word opgeneem in die hospital. Haar moeder is toegelaat in die hospitaal maar sy mag net agterbly mits sy op ‘n afstand bly en net staan en kyk. Sy het slegs kondensmelk water gekry en geen ander kos tot die opbou van haar liggaamkragte nie. Dan is sy nog met koue water ook behandel. Om die medisyne in haar geswolle keel te kry, het die verpleegpersoneel die lepel in haar mond gesit en dan het die hulle haar neus toe gedruk, sodat sy moet sluk. Annie word toe bloedrooi in haar gesig van pogings om die medisyne in haar keel te kry, totdat haar Moeder beswaar maak. Onmiddelik word die Moeder die hospital belet omdat sy nou met die verpleging inmeng. Annie se gesondheid het meer en meer versleg en die kouewater-behandeling is steeds toegepas. Later haal hulle haar ook nie meer uit die kouewater uit nie, maar laat haar daar sit vir lang tye, terwyl die vensters van die kamer waar sy was , oop was en ‘n koue trek deur die vertrek gewaai het. In die loop van die nag het Annie gesterf. Toe haar Moeder die doodsberig ontvang het, gaan sy na die hospitaal. Onderweg kom sy die draers van haar kind se lyk teë, Annie se hare was waternat…
Soos afgeneem Januarie 2014
GPS Koördinate: S29°57’4.69″ E30°57’44.78″ (van gedenktuin)
GPS Koördinate: S29°57’3.35” E30°57’48.48” (van ingangshek)
Bronnelys: Die Boerevrou, 1899 -1902 Deel 2 Kampsmarte deur A.W.G. Raath
Onthou! deur E. Wessels en A.W.G. Raath