Kamp is geopen op 25 Julie 1901.
In hierdie kamp is ongeveer 427 mense oorlede waarvan 339 onder die ouderdom van 15 jaar was en 88 persone bo die ouderdom van 15 jaar.
In Mevrou Neethling se boek “Mag ons vergeet” skryf Mevrou Anna Sophia Du Toit (Gebore Neethling) in haar brief dat hulle vleis gekry het van diere wat deur die weer dood geslaan is en vleis van diere wat aan brandsiek gely het om te eet. Sy vertel hoe mense sere aan hulle monde gekry het van die blikkies vleis wat hulle moes eet. Sy vertel dat die hospitaal tent aan die brand geraak het, en dat die 4 kindertjies wat daarin was, dood gebrand het. Een kind was al so gesond dat hy die anderdag na sy Moeder terug sou gaan.
Mevrou Susara Maria Magdalena Pienaar skryf van die treurige geval van Mevrou Liebenberg. Sy het uit die kamp gegaan om in ‘n veekraal misbredie te gaan pluk. Daar kom ‘n swart vrou met aartappels verby geloop en Mev Liebenberg vra toe vir haar om tog van die aartappels vir haar te gee om in die bredie te kook. Sy gee toe aan Mev Liebenberg twee aartappels. Mev Liebenberg sê toe aan haar: “Aia, ek sterf van die honger!” waarop sy toe dood neerslaan!
Dit blyk dat die kamp aan die einde van November 1902 gesluit het, aangesien geen inligting gevind kan word vir Desember 1902 nie.
So lyk die begraafplaas van die Balmoral Konsentrasiekamp soos afgeneem op die 16de Desember 2011.
GPS Koordinate: S25°52’3.38″ E28°58’2.10”