BELEG VAN ELANDSRIVIER / BRAKRIVIER / BUFFELSHOEK 3 – 16 Augustus 1900
Die Britte wou die Pretoria – Mafeking spoorlyn teen moontlike aanvalle beskerm en het ’n wagpos op die plaas Brakrivier aan die Elandsrivier opgerig onder bevel van Kolonel Charles Owen Hore. Die kamp was geleë op ’n lae plato langs die pad. In hierdie kamp was ongeveer 500 man waaronder daar 299 man van die Queensland Imperial Bushmen (vrywilligers uit Australië – wat teen die Boere kom veg het saam met Brittanje) was.
Die res was van die 1ste, 2de en 3de Rhodesian Field Force.
Daar was hope voorrade hier opgegaar.
As gevolg van al die teenslae wat hy in die Wes-Transvaal gely het, het Lord Roberts besluit om die afgesonderde buitepos te ontruim. Die patrollies van die pos het gedurig onder die Boere deurgeloop. Hy het Generaal F. Carrington met 1000 man en ses kanonne gestuur om te gaan help om die pos na Mafeking te verskuif.
Op 2 Augustus arriveer ’n konvooi van tagtig waens vanaf Zeerust, hulle moet by die buitepos by Elandsrivier wag op die soldate wat die konvooi moet begelei tot in Mafeking. Maar wat niemand in die kamp geweet het nie is dat Generaal De La Rey se Kommando van 500 man gedurende die nag van 3 tot 4 Augustus die hele kamp omsingel het.
Vroeg die oggend van 4 Augustus gaan ’n groepie soldate na die rivier om die perde water te gee en skielik knal die skote. Alles is onmiddellik deurmekaar, in die middel van die kamp val die eerste bomme.
Generaal De La Rey bombardeer die kamp aanhoudend met sy vier kanonne, een pom-pom en twee meksims.
Na son onder kom die soldate eers tot verhaal, die Australiërs het hulle eerste geveg beleef in die Tweede Vryheidsoorlog.
Ondertussen is Carrington nog op pad na die Elandsrivier. Toe hy die nuus kry van die aanval, laat hy sy bagasie en Paget’s Horse by die Marico rivier agter en snel so vinnig moontlik tot die redding. Generaal De La Rey het met 70 man, een kanon en ’n pom-pom langs die pad stelling ingeneem en Carrington ingewag. Die skerpskutters is so uitgeplaas dat dit die indruk skep dat ’n hele kommando hulle inwag en die aanval was so fel dat Carrington geen ander keuse gehad het nie – hy moes omdraai. Generaal De La Rey en Lemmer was kort op sy hakke en hy het tot op die walle van die Maricorivier gevlug en uiteindelik tot binne-in Mafeking self.
Op 5 Augustus gee Lord Roberts opdrag aan Kolonel R.S.S. Baden-Powell om Hore te probeer red. Hy was reeds naby Elandsrivier toe hy weer opdrag van Roberts kry om na Pretoria terug te keer. Hy was so naby dat hy die gevegte van Carrington en sy agtervolgers kon hoor, maar hy weet nie wat hy hoor nie en was onder die indruk dat Carrington reeds vir Hore bereik het en dat hulle onderweg is na Zeerust en Carrington is weer vas oortuig dat Hore reeds oorgegee het.
Met Generaal De La Rey se terugkeer stuur hy ’n boodskapper die kamp binne met sy voorwaardes vir oorgawe, maar nadat Hore met Majoor Tunbridge oor die aanbod gesels het word dit van die hand gewys.
Generaal De La Rey stuur ’n telegrafiese boodskap aan De Wet om hom te kom help maar De Wet kon nie kom nie. Roberts het duisende Britte agter hom aangesit wat hy probeer ontwyk op daardie stadium. Die boodskap word ook onderskep en is op die 13 Augustus reeds in die hande van die Britse opperbevel. Een van Hore se boodskappers slaag daarin om ongesiens Mafeking te bereik en Pretoria moes toe tot hulle ontsteltenis verneem dat Hore nog steeds vasgekeer is by die Elandsrivier.
Luitenant Annat en ’n groep Queenslanders probeer naderhand die Boere se een pom-pom buit, hulle slaag daarin om die bemanning te laat terugval maar kon nie die pom-pom self in die hande kry nie.
Generaal De La Rey en sy kommando bombardeer die kamp onophoudelik. Op 8 Augustus tref ’n bom die hospitaal. Die gesneuweldes word die aand begrawe aangesien ’n begrafnis in die dag te gevaarlik was. Die begrafnisgangers is ook nog aangesien vir loopgraafgrawers en hulle moes by geleentheid skuiling in die oop graf soek. Slegs offisiere kon die begrafnis bywoon aangesien Hore die manskappe verbied het om die loopgrawe te verlaat.
Op die tiende dag van die beleg begin die tempo van die bombardement geleidelik afneem. Tot die kamp se groot verassing, beantwoord die Boere nie hulle vuur op die 15de Augustus nie.
Generaal De La Rey het berig ontvang dat versterkings onder Lord Kitchener in aantog is en het besluit om te onttrek.
Een van die soldate het sy wedervaringe by Elandsrivier so opgesom:
“We are all happy now we have had a cut in, it has made different men of us all. We were disposed to be discontented, but now we are quite good-natured. I don’t know what sort of men war makes of us, but certain it is, the one stone that has a lot of Boer blood on it decorates the most prominent part of our trench, and we point it out with pride to everyone. It shows that if they bagged some of us, we bagged some of them…”
Op die einde van die beleg het 22 manskappe aan Britse kan gesneuwel en is ter ruste gelê in die militêre begraafplaas by Swartruggens. Aan Boere kant het daar vier man gesneuwel en volgens die boek van Elria Wessels – Veldslae in die Anglo-Boereoorlog is hulle ook hier begrawe. Ons het die perseel besoek en kon geen Boer graf vind wat gemerk is nie.
Die militêre begraafplaas het ook onder vandale deurgeloop en van die grafmerkers is meters vêrder in die gras agtergelaat.
Foto’s geneem Desember 2013
Koördinate: S25°38’58.02″ E26°42’24.94″