Louis Botha se kommando, ‘n gerame sewe duisend man, met twintig kanonne, waaronder etlike Long Toms, beheer die spoorweg tussen Belfast en Kruger se hoofkwartier na die ooste.
Hulle kom te staan teen 19,000 Britte met 82 kanonne.
Die slag van Berg en Dal, begin op 27 Augustus met ‘n aanslag deur die kavallerie, opgevolg deur die gebruiklike artillerie bombardement. Buller het die taktiese sleutel tot Botha se stelling gewaar, Dit is die groot rooi koppie naby die plaas Berg en Dal, ‘n warboel van grillerige rotse wat oor ‘n afstand van drie akker opmekaar gestapel is. As hy hierdie koppie verower, sal hy die Boerelinie in twee verdeel en hul terugtog roete verder bedreig. Anders as Spioenkop kan dit nie van agter of van die kante gesteun word nie. Botha het die deurslaggewende koppie aan sestig van sy beste manne toevertrou, die ZARP’s, lede van die Republikeinse Polisiemag. Hulle kry ‘n pom-pom (snelvurende, automatiese kanon) en eenvoudige bevel: hou dit tot die dood.
Met dagbreek op 27 Augustus kom genl.maj. J.F. Brocklehurst en sy 2de kavalleriebrigade asook die 4de korps berede infanterie reeds in beweging. Hulle moet die dekking vir die opmars verleen en veral stellings soek waarvandaan Berg en Dal en die noordelike hang van die koppie gebombardeer kan word.
Vroeg op die oggend van die 27ste gaan inspekteur kmdte. P.R. Oosthuizen en S. Van Lier die polisie (ZARP’s) se loopgrawe wat gedurende die nag gegrawe is. Vandaar gaan die kommandante na die voorste wagpos van die polisie op die alleenstaande koppie. Die groepie hier sit stil en rustig agter hulle skanse, gereed om die Britte die stryd aan te sê.
Daar is egter kommer oor die ammunisie, wat die afgelope paar dae aansienlik gekrimp het. Dadelik word ‘n wa met ammunisie en Martini-Henry gewere gestuur en om 8:30 kan die groepie op die koppie die geklap van die sweep en die geskree van die drywers hoor. Die voorraad wa moet oor ‘n oop vlakte van 220 treë ry om die wagpos te bereik.
‘n Uur later reën die liddietbomme en granaatkartetse op die polisiestellings. Al wat ‘n Britse kanon is, trek los op die stelling. Soms ontplof tot sewe bomme gelyk op die koppie. Die geel rook en dampe van die liddietbomme is verstikkend.
Hulle word vir drie ure aanmekaar gebombardeer, maar niemand het sy pos verlaat nie. Almal bly doodstil lê en wag dat die Britte moet storm.
Eindelik teen die middag begin die lang verwagte aanval, toe die Britte die rantjie bestorm. Die Britse troepe loop hulle vas in die dodelike vuur van die Boere. Die terrein waaroor die Britse troepe moet beweeg, is gebroke en bied uitstekende skietveld aan die verdedigers op die koppie. Op sowat 800 treë word die Britse soldate met hewige vuur van die polisie begroet. Die Britse soldate moet platval om die vuur te beantwoord.
Twee maal word die Britte terug gedryf, totdat hulle uiteindelik die relatiewe veiligheid van ‘n steil hoogte van sowat 800 treë van die Boere af bereik. Ten spite van die bombardement staan die verdedigers vas. Toe die Britte die laaste keer vorentoe storm, word hulle met selfs meer akkurate vuur as voorheen begroet. Ook die bommeskim brand met hernieude ywer op die aanstormende Britte los. Die Britse troepe word aangevuur deur hulle offisiere, druk moedig vorentoe. Uiteindelik moet die handjievol ZARP’s op die koppie voor die oormag swig, hulle ammunisie is gedaan.
Sommige het geslaag om hulle perde te bereik, ander het te voet gevlug.
Negentien van die ZARP’s is deur die Britte gevange geneem en veertien ZARP’s het gesneuwel in hierdie veldslag. Aan Britse kant is daar sewe offisiere gewond en drie gesneuwel, terwyl honderd man gewond of vermis is en twaalf gesneuwel het.
Die Monument soos afgeneem in Mei 2012
Koördinate: S25°44’5.25″ E30° 6’11.19″