Kamp is geopen waarskynlik kort na Kitchener se kennisgewing van 22 September 1900 dat kampe in Pretoria en Bloemfontein opgerig moes word.
Die Irene Kamp het ook ‘n strafkamp gehad, hierdie strafkamp was ‘n “wired-in enclosure for unruly women” wat naby die toilette opgerig was, op die droeë veld en kaal rotse, waar veroordeelde vroue soms vir ‘n dag lank sonder kos en water opgesluit is. In hierdie strafkamp is by geleentheid ‘n sekere Mevrou Lotter saam met ‘n swart man en twee Indiërs ‘n hele dag lank opgesluit. Nadat sy die aand na haar tent teruggekeer het, is haar kindjie dood gebore.
Die Irene kamp is aanvaklike uitgelê net Noord van die Hennopsrivier en wes van die spoorlyn. Die kamp het ‘n hospitaal gehad en later ook ‘n skool. Die kamp in Januarie 1901 verder noord verskuif en meer direk wes van die stasie. In Januarie 1902 is daar ‘n tweede kamp geopen net 1.6km van die eerste kamp af en in Maart 1902 is die inwoners van die Nylstroom kamp daarheen verskuif.
Aanvanklik het die Kamp uitsluitlik uit tente vir huisvesting bestaan, maar die bestuurder van die landgoed het toestemming gegee dat songedroogde stene gemaak kon word, sodat die kamp inwoners met die bou van hutte kon begin.
Die kamp se inwoner tal het van 819 persone in Februarie 1901 tot 4655 persone in Augustus 1901 gestyg.
In die Irene Konsentrasie Kamp het volgens rekord, 1,179 persone gesterf waarvan 1,002 persone onder die ouderdom van 15 jaar was en 177 persone bo die ouderdom van 15 jaar was.
Mevrou Martha C.F. Stander (gebore: Fourie) skryf in haar verklaring:
“Dit was ‘n treurige gesig toe ons daar aangekom het. Om die arme vrouens in klompies te sien staan, terwyl hulle die tyd afwag dat hul dode na die graf gedra word, was eenvoudig hartverskeurend. Daar was masels en kinkhoes in die kamp en van vyf tot dertien lyke is per dag na die begraafplaas geneem – meestal kinders.”
In die verklaring van Mevrou S.M. Scheepers (gebore: Erasmus) skryf sy:
“Die meel het gekrioel van wurms en die vleis was meestal oneetbaar. Daar was geen groente nie terwyl die koffie en suiker slegter was as die slegste wat ek ooit gesien het.”
“Die beste naam vir die Irenevrouekamp sou, volgens my mening, wees: ‘n Moordkamp.”
Johanna van Warmeloo (Brandt), wat in die kamp as verpleegster diens gedoen het, was van mening dat die vleis selfs vir honde ongeskik sou wees en het die koffie en suiker as “skandalig” bestempel.
Kamp is gesluit in Desember 1902.
Begraafplaas soos afgeneem Desember 2011
So het die Kamp Begraafplaas oorspronklik gelyk
GPS Koordinate: S25°52’17.02″ E28°13’13.96″