Kamp is geopen Februarie 1901. Aan die einde van Augustus was daar nog net 2000 inwoners in die kamp.
Hierdie kamp was met nie minder as drie doringdrade omhein, en in Mevrou M Swart se brief dui sy aan dat die kamp met ses doringdrade omhein was. Geen persoon mag die kamp sonder ‘n pas verlaat het nie en indien so persoon gevang is het hulle 14dae kamp straf gekry. In hierdie kamp was daar ook ‘n skool waar die Britse administrasie gepoog het om sy verengelsingsbeleid effektief deur te voer, sodat tot die Bybel lesse vir die kinders in Engels aangebied was.
Wanneer die kamp reels oortree was is baie streng strawwe uitgedeel. Mevrou A.M.C.B. Kruger vertel van jong Koot wat in die “donkerkamer” opgesluit was omdat hy nie gedwonge werk wou doen nie. By navraag het dit geblyk dat hy sedert sy opsluiting geen kos ontvang het nie.
“Die volgende dag 9 uur staan die jongeling nog sonder kos. Ek gaan self na die kamer en sien dat twee “handsuppers” binnekom, en die jong Koot aan sy hande teen twee pale vasbind. Hy het bedaard na my gekyk. My hart het gebloei by die gedagte wat tog met die jongeling gedoen sal word.” Self sy moeder se versoek om tog vir hom bietjie koffie te gee, is geweier – hy was parmantig en moet gestraf word. Die volgende dag is hy vir ‘n halfdag uitgelaat, maar hulle het hom die dag daarna weer opgesluit. Mevrou Kruger het selfs by die kommandant gaan kla oor hierdie behandeling maar dit het ook niks opgelewer nie. 15 Dae later is die jonger seuntjie van mevrou Botha ook in die “donker kamer” opgesluit vir 27 uur, omdat hy onder deur die heining van die kamp gekruip het. Mevrou van Rensburg het aan haar vertel hoe die kleintjie roep: “Moeder, honger; moeder brood en water, ek het dors.” Terwyl sy moeder sterwende in die bed was.
Daar is volgens rekords 216 persone oorlede in hierdie kamp, waarvan 182 persone onder die ouderdom van 15 jaar was en 84 persone bo die ouderdom van 15 jaar.
Mevrou A.M.C.B. Kruger wat die vroedvrou in die kamp was het dit onder die dokter se aandag gebring dat die vreeslike harde werk wat selfs die swanger vroue moes doen tot verswakking tydens die bevallings en selfs doodgebore babas gelei het waarop die dokter haar met “harde woorde” aanspreek.
“Die kommandant vra aan my: “Jy is die vroedvrou, wat is jou opinie waarom daar soveel kinders swak en halfdood en ook dood gebore word,” waarop ek sê: “Omdat die moeders te harde werk moet doen en te veel honger ly.” Ek herinner hom toe hoe dieselfde vrou op die 6de haar hout ontvang het en byna beswyk het onder die stuk hout, en weer die volgende dag dieselfde stuk hout na die kapplek moes dra. Dit was vir drie vroue en dan moes sy dit self deel en in stukke kap.”
Mevrou C.C. Nel vertel hoe hulle gevange geneem is, sy is in ‘n huis in Carolina vir twaalf dae saam met haar kinders aangehou. Daarna is sy per konvooi na Wonderfontein gestuur. Sy skryf: “Ons kom te Wonderfontein stasie aan. Baie laat aand moes ons rantsoene gaan ontvang. Omdat ek dit nie self kon doen nie, stuur ek my oudste dogtertjie van 10 jaar, wat nog so siek was dat sy bewusteloos neerval voor sy daar was waar sy dit moes ontvang. So is sy na my terug gebring sonder dat ons iets gehad het om te eet, terwyl ek ‘n dokter moes laat kom vir haar, aangesien sy in ‘n bedenklike toestand was van al die honger en koue wat ons deurgemaak het.”
So vertel sy het hulle honger gely en elke keer as hulle kos vra, word daar net aan hulle gesê: “Wait, next station” en daar gekom dan sê hulle maar net dieselfde. So het dit vir tot 6 dae aangegaan voordat hulle by die Kaapmuiden stasie, bietjie hopbrood en “corned beef” gekry het om te eet.
“In die kamp gekom is aan my ‘n ronde tent afgesmyt waarin drie groot hope sand en ander goed gelê het, wat ek alles self moes sien om uit te kry. Toe het dit ook alreeds donker geword, sodat ek nie alles in orde kon kry nie en vir my kinders wat so siek, honger en afgemat was, ‘n soort van bed op die nat aarde moes maak.”
Die rantsoene was so sleg dat dit met moeite geëet kon word. Die meel was bitter en bedorwe, sommige blikkies gesoute beesvleis was so bedorwe dat dit feitlik oneetbaar was. Terwyl daar ook hakies en klein glasstukke in van die blikke gevind is. Dit het ook dikwels gebeur dat daar tot drie dae verby gaan voor dat van die vroue met die rantsoene geholpe was.
Die Kamp is baie vroeg in November 1902 gesluit.
Afgeneem in April 2012
GPS Koordinate: S25°46’39.17’’ E31°2’49.39’’