Die Middelburg kamp was in nege afdelings opgedeel: Jouberts, Vermaaks, Ermelo, Pretoria No 1, Pretoria No 2, Carolina, Middelburg, Belfast en Roossenekal.
Die kamp is voor Junie 1901 reeds geopen aangesien die Ermelo gedeelte geskuif is in Junie 1901.
Die kamp het ook onhigiëniese watervoorsiening gehad en die inwoners moes al hulle water uit net 6 putte ontvang. Die Ermelo afdeling het nie eens ‘n waterput gehad nie! Hulle moes met ‘n leivoor, uit ‘n dam sowat vier myl van die kamp af, water kry. Die dam was die swem- en wasplek van die Britte. In hierdie kamp was daar ook ‘n kampskool opgerig.
Die swak vleisrantsoene in die kampe, het die Britse owerhede in September 1901 daartoe beweeg om na blikkiesvleis oor te skakel.
Die kamp het ook soos baie kampe die geval was, ‘n strafkamp gehad.
In April was die getal inwoners 1,292 persone en in Augustus was die getal inwoners 6,523 persone.
Alhoewel die hoogste getal inwoners 7,751 persone was in Julie 1901.
In hierdie kamp sterf daar, volgens rekord, 1,621 persone waarvan 1,343 onder die ouderdom van 15 jaar was en 278 persone bo die ouderdom van 15 jaar was. Vandag is daar drie afsonderlike begraafplase vir die Middelburg Konsentrasiekamp. In hierdie kamp begraafplase is geen ererol met die name van die afgestorwe persone nie.
Mevrou S.C. Scheepers skryf in haar verklaring:
“ ’n Ander skandalige voorval was die volgende: In die begin het die lyke in die ronde tent wat as ‘’n dodehuis gebruik is, op die grond gelê. Een nag is die lykie van ‘n kindjie deur ‘n vark byna heeltemal opgevreet. So het die familie die lykie daar kry lê toe hulle die volgende oggend gekom het om dit te kis.”
Sy skryf verder:“Die vleis wat ons gekry het om te eet, was dié van beeste wat lank siek was en het soos geel drilsel gelyk. Ek het self vitrioel uit die suiker gehaal en hakies uit die blikkies vleis.”
Mevrou Anna Sophia Du Toit (Gebore Neethling) skryf in haar brief, hoe sy moes gaan smeek vir ‘n tent, toe hulle in Julie maand by die Middelburgkamp in die aand gearriveer het. Toe word daar een tent vir vyf en sestig mense opgeslaan, wat so beknop was dat nadat almal hul beddens opgemaak het, het hulle styf teen mekaar gelê.
Sy skryf: “As ons maar genoeg kos gekry het, dan sou dit op ‘n manier gegaan het, maar dit was nie die geval nie. Al om die derde dag het hulle vir ons ‘n bietjie suiker en koffie , al ag dae ‘n stukkie rou vlees en ‘n beker meel vir elke volwassene en ‘n halwe beker vir elke kind gegee. Om ‘n kind te hoor huil: “Ma, ek het so honger; gee my tog ‘n stukkie brood”, en niks te hê om vir hom te gee nie! Ag dan kon my hart van droefheid en smart breek.”
Mevrou J.F. Haupt vertel hoe sy haar kind wat siek geword het, probeer versteek het omdat sy geweet het hoe min van die mense weer uit die hospital gekom het. Nadat iemand haar gaan verkla het by die dokters, is sy in die verslete tent in die dig omheinde strafkamp gesit. Die tent was so verslete dat sy die deur met spelde moes toespeld. Die volgende dag is sy weer na die superintendent gebring.
“ “Goeie more!”, sê ek. Geen antwoord.
Met sy rug na my gekeer begin hy naderhand: “Jy het jou skuldig gemaak omdat jy die sieke verberg het. Jy moet 21 dae gevange straf ondergaan met of sonder harde arbeid of 5 pond betaal. Kan jy dit betaal?”
Ek antwoord: “Nee.”
“Kan jy dit nie leen nie?”
Ek sê: “Ja, maar hoe sal ek dit weer terugbetaal?”
“Waar is jou man?”
Ek sê: “Indië.”
“Waar is jou kind?”
Ek sê: “In die hospital.”
“Wel, ek vonnis jou tot 21 dae sonder arbeid.”
Ek word toe in die besonder digte draadkamp geplaas waar ek soos ‘n misdadiger moes bly tot ‘n week nadat die burgers wapens neergelê het en ingekom het. Dit is die beskaafde Engeland!”
Die kamp is in Januarie 1903 gesluit.
So lyk die een begraafplaas soos afgeneem in Julie 2012
GPS Koördinate: S25°47’21.58″ E29°27’47.98″
So lyk die tweede begraafplaas soos afgeneem Julie 2012
GPS Koördinate: S25°45’47.26″ E29°26’53.40″
So lyk die derde begraafplaas soos afgeneem in Julie 2012
GPS Koordinate: S25°44’37.57″ E29°28’5.47″