Standerton Konsentrasiekamp
Hierdie kamp is opgerig in Desember 1900. Dit was geleë oos van die spoorweg stasie, op beide oewers van die Vaalrivier. Bykans een derde van die kamp inwoners was op die suidelike wal van die rivier en die ander was aan die oorkant gehuisves. Die huisvesting was van swak gehalte en onvoldoende, weens die gebrek aan tente is daar tot sooihutte vir van die inwoners opgerig.
Op ‘n tydstip was daar geen naamlys van hierdie kamp se inwoners nie en soos nuwe gesinne aangekom het, het daar ‘n nodelose verwarring geheers.
In die somer maande was die kamp modderig en nat en in die winter maande was dit bitter koud omdat dit so teen die water geleë was. In hierdie tragiese omstandighede moes een derde van die kamp inwoners op die grond slaap vanweë ‘n tekort aan beddens.
Die kamp is in die turfgrond geleë en tydens reënstorms was die kamp in een modder massa omskep.
Op 22 Februarie 1901 was daar 1342 inwoners in hierdie kamp, teen September 1901 was daar 3329 inwoners en in November 1901 was daar 3033 inwoners. Die hoogste getal inwoners in hierdie kamp was in Januarie 1902 opgeteken, 3454 persone.
Die grootse aantal sterftes wat in een maand in die kamp voorgekom het was 240 inwoners wat in Oktober 1901 gesterf het. Totale aantal sterftes in hierdie kamp was 716, waarvan 609 persone onder die ouderdom van 15 jaar was en 107 persone bo die ouderdom van 15 jaar was.
Mev Barend Greyling vertel hoe sy en haar drie kinders, twee dogtertjies en ‘n seuntjie saam met haar suster gevange geneem is. Hulle is na die konsentrasiekamp in Standerton geneem. Haar oudste suster wat reeds daar was het hulle ingeneem in haar deel van die Veldtent (Marquee tent) wat toe altesaam 60 inwoners gehad het. As gevolg van ‘n tekort aan beddens het sy (wat ‘n swanger vrou was) na die kamp kommandant gegaan om te vra vir ‘n tent en beddens: “In plaas dat hy ons help, het hy ons gevloek en weggestuur.” Hulle het toe na die hospitaal suster gegaan en haar gevra of sy hulle nie kan help nie. Sy het toe kom kyk waar hulle tent is en net haar hande saam geslaan in verbasing, maar tog het sy iewers vandaan vir hulle een bed gekry. Daardie aand het Mevrou Barend Greyling geboorte geskenk aan ‘n dogtertjie. Hierdie kindjie het slegs 4 maande oud geword en op 24 Oktober 1901 is sy oorlede.
Omtrent so 3 dae voor die afsterwe van haar ander dogter, sit haar seuntjie bitterlik en huil en sy vra toe aan hom waarom hy dan so bitterlik huil en hy sê: “Ma, sien Ma dan nie dat die kakies ons hier op ‘n hoop gery het, sodat ons almal moet doodgaan nie? Klein Sussie is al dood, daar lê Drienatjie. Ma sal vir haar en my ook moet afgee. Annie sal vir laaste oorbly. En ek weet nie of my arme Pa nog leef nie.”
Op die 19de November is haar tweede dogter, Hendrina oorlede, sy was drie en ‘n half jaar oud. Op 18 Desember is haar seuntjie van vyf jaar en vyf dae oorlede na ‘n siekbed van ses weke. Op die 24ste Januarie is haar laaste oorblywende kind, Anna wat sewe jaar en sestien dae oud was, ook oorlede…
Standerton se Konsentrasiekamp Begraafplaas – soos afgeneem Mei 2012
GPS Koördinate: S26°56’59.61″ E 29°15’03.62″
Oorspronklike kampterrein – soos afgeneem Januarie 2014
GPS Koördinate: S26°57’21.10” E29°15’0.82”
Bronnelys: Die Boerevrou 1899-1902 Deel 2: Kampsmarte deur A. W. G. Raath
Mag ons vergeet? deur Mev E. Neethling
Onthou! deur E. Wessels en A. W. G Raath