Hierdie konsentrasie kamp is in April 1902 opgerig om die oorvloei van kamp inwoners van die Transvaal en Oranjerivier kolonie te akkommodeer.
Reeds in Mei 1902 word daar 6 pasiënte in die kamp hospitaal opgeneem, drie gevalle van longontsteking, een geval van mangelontsteking, een geval van colitis en een geval van laringitis en brongitis.
Aangesien nege en veertig persone in hierdie kamp behandel is, kan ons aanvaar dat die kamp redelik klein was.
In hierdie kamp sterf daar volgens rekord, 6 persone waarvan 2 persone onder die ouderdom van 15 jaar was en vier persone bo die ouderdom van 15 jaar was.
Mevrou Rensche van der Walt beskryf haar gewaarwordinge vandat hulle verneem het dat hulle van Bethulie af na Kubusi vervoer sou word en haar gemoed stemming toe sy in die kamp te Kubusi, naby Stutterheim aankom:
“By die stasie was daar tente waarin ons die nag moes slaap, maar dit was so vol dat ons buite geslaap het. Ons het die nag nooit geslaap nie, want hulle het so geraas dat ons nie kon slaap nie en ons was ook so onrustig… Ons verneem hier dat ons Kubusie toe moet gaan en dat ons deur ‘n tonnel moet ry. Die angstige gedagtes oor ons onbekende weg het ons almal so droewig gestem. Ek kon nie langer die droefheid en die angs verduur nie…
O, maar die droefheid toe ons oor die Grootrivier gaan! Ons sou die kamp en ons dierbare Vrystaat nie weer sien nie. Ek het net so gevoel toe ons die dag van die plaas af weg is…”
Na die reis wat vier dae geduur het, skryf sy:
“Op 18 Mei was ons in Kubusi. Ons moes van die stasie na die kamp, ongeveer vyf minute se stap, loop. By die kamp moes ons oor ‘n bruggie loop. Aan die anderkant sit ‘n man by ‘n tafeltjie en elkeen wat verby gaan moet aan hom die naam van sy of haar moeder of die naam van die hoof van die gesin verstrek.
So neem ons, ons intrek in die vreemde kamp. Ons sien net lang sinkhuise en ook wit huise. In die kamp kom een van die verpleegsters na ons en neem ons na die kamer waarin ons moes bly. Ons is nou in ‘n kamer met groot vensters en ‘n plankvloer. O, maar ek wil maar liewer my ou tentjie hê. Onwillekeurig dink ek weer daaraan hoe dit met ons die dag by Bethulie met ons intrek in die kamp aldaar gegaan het en hoe ons moes sukkel om dit reg te kry. Maar dit was tog nog ons eie land en ook by my suster, al moes ek toe ook met ‘n glasstuk die gras uitkrap. Hier is alles baie gerieflik. Nou moet ons in kamers was. Al is dit ook hoe gerieflik, beteken dit vir my niks, want my hart is nie hier nie. O, die treurigheid van die verre, verre land!”
Die perron – dit is die enigste oorblyfsels van die Kubusi stasie
Soos afgeneem April 2012
Ons het die konsentrasie kamp begraafplaas gaan soek van die Kubusie kamp waar daar 6 mense oorlede is, maar kon geen grafte vind nie. Al wat ons gekry het is die oorblyfsel van die perron van die stasie waarna Mev van der Walt verwys. Soos wat uit haar brief afgelei kan word was die Konsentrasie kamp self net 5 minute se stap daarvan af. As mens by die perron staan kan mens die Kubusie rivier sien, wat heel moontlik die bruggie oorgehad het waarna sy ook verwys. So daarom kan mens aanneem dat die kamp op die heuwel geleë was soos aangedui op die foto.
In Desember 2013 is ons gekontak deur Mnr Dirk Schellingerhout met nuwe informasie aangaande die oorledenes van die konsentrasiekamp. Die grafte is opgespoor, opgegrawe en die oorskotte wat gevind is, is herbegrawe by die NG Kerk in Stutterheim op die 7de Desember 2013.
Om die begrafnisbrief op U rekenaar af te laai klik hier Kubusi begrafnisbrief
Indien enige iemand meer inligting het aangaande hierdie konsentrasiekamp, kontak ons asseblief by info@boererepublieke.co.za