Die kamp het reeds op die 21ste Maart 1901 ‘n inwonertal van 705 persone gehad. Die hoogste getal inwoners, was 3,383 persone in November 1901. Teen einde November was almal in tente gehuisves en die lykshuis was ook in een groot tent gehuisves.
Die drinkwater vir hierdie konsentrasiekamp is deur middel van ‘n voor uit die Umgeni rivier geneem en met ‘n pyp aangelê terug deur die rivier en met ‘n turbine opgetel tot 120 voet om groot tenks in die kamp vol te maak.
In hierdie kamp sterf daar volgens rekord 145 persone waarvan 126 onder die ouderdom van 15 jaar was en 19 persone ouer as 15 jaar was.
Mevrou H.M. Oosthuizen vertel van haar ontberinge:
“Daar het ons in mistige nat weer aangekom. Die tente is in die kamp op die nat grond opgeslaan. So moes ons daarin. Ons matrasse was weldra verrot van die nat grond, sodat ons dit met nuwe slope moes oortrek. Baie huisgesinne moes so sonder matrasse slaap, totdat ons weer die kamp verlaat het. Dan sê die kampkommandant nog: “Die Boere is niks beter gewoond as om op die grond te slaap nie.” Die water wat ons moes gebruik, was ongeveer ‘n duisend tree van die kamp teen ‘n steil helling. Die stroompie was slegs drie vingers breed en daarvan moes 4 tot 5 duisend persone hulle water kry. Ons moes dikwels die more tot die aand staan om een emmer water te kry. In nat weer moes mens byna op hande en voete teen die steil helling uitklouter . Die huis waar die kos uitgedeel is, was aan die oorkant van ‘n diep leegte. Ook daar was dit staan van die more tot die aand, want eers moes die “Handsuppers” gehelp word, dan die vroue of meisies wat in die hospitaal werk en laaste van almal ons arme vrouens.” Sy skryf ook van die hoeveelheid kos wat hulle ontvang het: “Meer as een het flou geword van die honger voor die deur van die kos-huis, want ek en my ses kinders het slegs twee hopbroodjies en 3 pond vleis gekry vir ‘n hele dag en een maal per week ‘n bietjie aartappels en rys. Die bitter wat ek daar gely het, kan geen pen beskryf nie.”
Volgens verskeie bronne op die internet, het ons verneem dat die Konsentrasiekamp se grafte was in die begraafplaas gewees maar is uitgehaal uit die begraafplaas en onder die monument herbegrawe saam met die Britse soldate se beendere wat ook uit die begraafplaas verwyder is.
Indien enige iemand meer inligting het aangaande die grafte van die Howick Konsentrasiekamp, kontak ons gerus by info@boererepublieke.co.za
Soos afgeneem Januarie 2014
GPS Koördinaat: S29° 30’ 2.71” E30° 13’ 48.49”
Bronnelys: Die Boerevrou, 1899 -1902 Deel 2 Kampsmarte
Internet: http://www.howicktourism.co.za/history.htm