Die Konsentrasie kamp van Bloemfontein is in September 1900 geopen.
Die kamp het uit twee afdelings bestaan, met ‘n heuwel wat dit skei. Die burgerlike owerheid het die kamp in Februarie 1901 oorgeneem. Die tweede deel van die Kamp is in Mei 1901 geopen. Vandag is daar ook twee begraafplase vir die Bloemfontein Konsentrasie kampe.
Die higiëne in hierdie kamp was uiters swak. Die latrine voorsiening was nie voldoende nie. Die vullis het in hope naby die kamp gelê totdat dit met vullis karre verwyder is. Selfs die wasgeriewe was maar tragies, die Dameskomitee wat die kamp besoek het in September 1901 het getuig dat vroue hul klere in poeletjies water moes probeer was.
‘n Groot deel van die kampbevolking, insluitende verwagtende moeders, was verplig om op die kaal grond te slaap, selfs in die kamp hospitaal moes sommige mense op die grond slaap. Daar was op een stadium nie eens een enkele dokter in die Bloemfontein kamp nie, net een verpleegster wat deur twee Boeremeisies bygestaan is totdat hulle enkele weke later ook gesterf het. Eers teen die einde van Desember 1901 het die kamp ses dokters gehad met dertien verpleegsters, vier matrones en twee aptekers.
In Junie 1901 was daar 4,735 inwoners en in Julie 1901 was daar 5,036 inwoners. Dit het egter gestyg tot 6,586 in Augustus 1901 wat dui op ‘n groot toename van inwoners.
In hierdie kamp sterf daar volgens rekord 1,695 persone, waarvan 1,236 persone onder die ouderdom van 15 jaar was en 432 persone bo die ouderdom van 15 jaar was.
Mev P Botha skryf:
“Ek het my kinders geleer om met alles tevrede te wees en te eet wat aan hulle voorgesit word, sonder om te kla. Maar die brood wat uitgedeel is het al slegter en vuiler geword, totdat ek ‘n brood deurgesny en ‘n klont bloed daarin kry. Dit was vir my darem te erg! Ek bring dit na die kampkommandant; hy sê vir my dat ek geen rede het om te kla nie, want die tommies kry dieselfde brood. “Ja,” antwoord ek, “maar ek is tog mos geen Tommie nie!”
Net toe kom die dokter verby, en ek wys dit vir hom. “Sorg maar dat jy nie te veel daarvan eet nie,” was sy raad.”
Sy skryf verder:
“Kort na my aankoms in die kamp was een van die ontsettend aaklige toestande, dat die lyke van die gestorwenes nie vir begrawing verwyder is uit die tente, waarin die ander familielede moes bly nie. Totdat, in baie gevalle, hulle al tot ontbinding oorgegaan het. In so buurt was dit soms ondraaglik in die tente, want hulle het so dig opmekaar gestaan.
Ek het ‘n memorie aan die goewerneur opgestel en dit laat onderteken om te vra dat ander skikkings hieroor gemaak moes word. Toe is daar ‘n “doodstent” buite die kamp opgeslaan.”
Sy vertel ook hoe hulle permitte moes verkry om hulle dierbares te gaan begrawe, en die permitte is dikwels geweier, dan moes die moeders maar so staan en kyk hoe die lyke van hulle kinders op ‘n kaalwa gelaai en weg gery word. Hulle het nie eens geweet watter graffie hulle sin was nie.
Die kamp is eers in Januarie 1903 gesluit.
So lyk die konsentrasiekamp gedeelte in President Brand Begraafplaas, soos afgeneem in April 2012
GPS Koordinate: S29° 07’31.89″ E26°13’02.74″
So lyk die konsentrasiekamp gedeelte in die Memorium begraafplaas, soos afgeneem in April 2012
GPS Koordinate: S29° 09’01.05″ E26°12’19.84″