In die winter van 1901 het joiners in die omgewing van Heidelberg in Transvaal hulle aan verskeie gruweldade skuldig gemaak.
Vdkt. Kamffer en asst.vdkt. Andrew Brink het n joiner , ene Scheepers, agtervolg. Brink het op Scheepers geskiet en hom ernstig gewond. Hy is onder bewaking geplaas.
Dit is wat volgens Kamffer se ongepubliseerde herinneringe verder gebeur het:
“Daar verskyn nou skielik ’n perderuiter vanaf die boonste Rooikoppe in Beerlaagte. By ons gekom erken ons hom as Danie Maartens ’n burger van Komdt. Buys wat in die boonste Rooikoppe was. Hy was baie opgewonde en vra of ons die Nasionale Scouts vannag bygetrek het en of sy swaer Scheepers nie onder die seksie was nie. Danie vertel ons toe dat twee nagte vantevore Scheepers en sy klomp Danie se vrou, en terselfdertyd Scheepers se eie suster, uit haar huis verdryf het in die bittere Junie maand koue, kaalvoet en net in nagklere geklee en die huis afgebrand, haar en haar dogtertjie vir sowat duisend treë aangejaag te perd en daar laat staan in die veld waar Danie haar die volgende oggend in ‘n benarde toestand gekry het. Sy en die kind was byna verkluim. Sy het Danie vertel dat dit haar eie broer was wat die daad gepleeg het. Brink vertel hom toe dat dit wel sy swaer was wat daar neergetrek lê waar die wagte wag hou. Meteens kon jy die gevoelens lees op die man se gesig. Geen woorde kan beskryf wat sy gevoelens was op daardie oomblik nie. ’n Eie voorstelling van so ’n geval kan dit self nie openbaar nie. Die ironie van gevoel van feitlik broer teenoor broer en daarnaas van man teenoor vrou en kind. Met ’n woede onbekend en oorweldigend vlieg hy nou op sy perd en jaag na die wagte en Scheepers. Toe hy sowat vyf treë van Scheepers was spring hy van sy perd. Scheepers erken hom dadelik en smeek die wagte om hom te beskerm daar dit sy swaer was wat hom kom doodskiet. So swaar gewond as wat hy gewond was kruip hy na Danie toe aan en toe Danie by hom kom begin hy smeek dat Danie tog genade moet hê. Danie antwoord net dat hy niks van hom wil hoor nie, ‘Ek wil jou tussen jou twee oë skiet.’ Hy lê ook aan en gee hom die koeël, klim op sy perd en ry weg.”
Bronnelys: Boereverraaier deur Albert Blake