’n Uittreksel uit die boek: Die Boerevrou, 1899 – 1902. Deel 2: Kampsmarte deur A.W.G. Raath.
Mevrou S.M. Haupt vertel van hulle eerste oggend in die Brandfort konsentrasiekamp: “Die volgende môre moes ons na die kampkommandant gaan om ’n kaart vir rantsoene te kry. Vandaar weer na die rantsoen tent, waar ons skamele porsie vir ons uitgedeel is – te min om van te leef, te veel om van dood te gaan. Vuurmaakgoed (brandstof) moes die vrouens maar self verskaf. Elke Woensdag kon ’n sekere getal vrouens uitgaan om brandstof in die rante te gaan haal, omtrent 200 vrouens kon dan uitgaan, bewaak deur ’n aantal Kakies of “handsuppers”, wat die eed van trou afgelê het. Om met die hout uit te kon kom tot ons beurt weer kom om te gaan haal het ons dikwels dragte gedra wat bo ons kragte was…”