Die Boerevroue het so baie ontberings in die konsentrasiekampe gehad, maar ons besef nie aldag aan watter psigiese spanning hulle onderwerp is, voordat hulle die kampe bereik het nie.
Mevrou J.H.E. van Rooyen beskryf hoe sy weg gevoer is. Sy was alleen op die plaas met 5 klein kinders terwyl haar man en drie groot seuns op kommando was. Om 9 uur die aand van 18 April 1901 het n kommando gewapende swartes opgedaag. Hulle het haar gevra waar die perde, beeste en skape is, toe sy antwoord dat sy nie weet nie, is sy gedreig dat sy met sonop leed aangedoen sou word. Teen dagbreek was almal terug en moes s al haar besittings agterlaat en was sy verplig om met haar kinders, ’n paar komberse en bietjie klere, ses myl ver te loop. Al haar vee is deur die Engelse en swartes geneem. Alhoewel sy ’n kwitansie vir ’n gedeelte van die skape ontvang het, het sy nooit kompensasie daarvoor gekry nie.
Die verwoesting wat onder die vee gesaai is deur die Engelse en hulle onderdane
Hulle het haar met ’n skuit deur die Oranje rivier geneem terwyl omtrent 400 van haar skape in die rivier verdrink het en ander se kele afgesny is. Sy is met haar kinders na ’n swart kamp geneem waar sy vir twee dae moes bly. Haar rantsoen was slegs een stukkie vleis van haar eie skape, vir haar en 5 kinders! Van daar is sy deur gewapende swartes op ’n kaal wa na Sterkspruit geneem.
Daar moes sy weer vir 2 dae by die kaalwa bly. As kos het sy semels vir meel en brood wat vol perdemis was ontvang!
Van daar is sy op dieselfde wyse na Hersel vervoer, daar moes sy weer vyf dae saam met hulle oorstaan. Sy het weer slegs semels gekry en geen behoorlike beddegoed nie. Op die kaalwa is sy na Aliwal-Noord vervoer. Die waens het hulle so met ammunisie kiste oorlaai dat haar kinders vir 30 myl te voet moes loop. Steeds moes hulle onder die wa slaap. Vir nog ’n half nag moes sy met die kaalwa by die stasie staan. Van daar is sy na die kamp, steeds net met swartes by haar.
Agt dae moes sy wag in die kamp voordat sy rantsoene ontvang het; die brokkies wat oorgebly het nadat die ander vroue hulle rantsoene ontvang het moes sy bymekaarskraap om te probeer aan die lewe bly. In die kamp moes sy seep kook en klere vir ander kamp inwoners maak om ’n bestaan te kon maak.
Aliwal-Noord Konsentrasiekamp gedurende die winter van 1901
Nig Netta beskryf hoe geweld op mense en diere toegepas is:
“Ons was ’n ent van die plaas toe sien ons hoe ’n rookwolk opskiet soos ons huise afgebrand word. Die trek het 3 dae geduur. Onderweg moes ons by ’n steil hoogte af; daar was toe net ’n groot trop skape op die hoogte. Die Tommies en alle swart handlangers het die skape onder ons waens deurgejaag, met die gevolg dat die waens heelwat skape doodgetrap het. So ver die Engelse getrek het, het hulle plase en vee geplunder. Hoenders, eende, lewendige varke – sommer ’n boud van afgesny en aan hulle saals vasgebind.”
Boere woning wat aan die brand gesteek is
Kan U, Uself voorstel hoe uitgehonger en hartseer hierdie vroue en kinders was wanneer hulle by hierdie kampe opgedaag het? Dan het die ellende eers werklik in sy volle felheid begin…
Bronnelys:
Die Boerevrou 1899 – 1901 – Volume 2: Kampsmarte deur A.W.G. Raath
Suffering of War deur Louis Changuion, Frik Jacobs en Paul Alberts