Die ontberings op pad na die konsentrasiekampe toe het reeds slagoffers begin eis voordat die inwoners in die kampe aangekom het. Eers het hulle drupsgewys aangekom en daarna in hulle honderde, siek en sonder noemenswaardige weerstand teen die ontberinge wat voorlê.
Mevrou C.C. Nel van Smutsoog, Ermelo, vertel hoe sy in Juniemaand 1901 deur die Engelse en hulle swart handlangers weggevoer is. Hulle het eers haar eiendom brutaal verniel en daarna het hulle haar na die konsentrasiekamp geneem. Soos in al die gevalle is sy en haar kinders met weinig kos weggeneem van haar plaas af. Sy is in ’n huis in Carolina aangehou, waarvan die ruite en vensters uitgebreek was en in die bitter koue moes sy in die murasie haar weg vind. Die twaalfde dag na die wegvoering, is sy uit die huis geneem sodat sy die volgende dag per konvooi na Wonderfontein gestuur kon word. Blootgestel aan die reën en koue en honger, kom sy en haar kinders uiteindelik by die stasie te Wonderfontein aan. Nou begin die blootstelling en honger op die gestel van die kinders en moedersy tol eis:
“Ons kom te Wonderfontein stasie aan. Baie laat die aand moes ons rantsoene gaan ontvang. Omdat ek dit nie self kan doen nie stuur ek my dogtertjie van 10 jaar, wat nog so siek was dat sy bewusteloos neerval voor sy daar was waar sy dit moes ontvang. So is sy na my teruggebring sonder dat ons iets gehad het om te eet, terwyl ek ’n dokter moes laat kom vir haar, aangesien sy in ’n bedenklike toestand was van al die honger en koue wat ons deurgemaak het. Die volgende dag moes ons op die stasie wees om per trein vervoer te word, waarheen het ons nog nie geweet nie. So was ons verplig om die bietjie goed wat ons nog gehad het self na die platform te dra. Met ’n kindjie van 10 jaar oud op my een arm moes ek so aansukkel, terwyl daar honderde swartes staan waarvan een nogal so brutaal was om ’n tjalie waarin ek die kleintjie gewikkel het, van haar af te ruk.
By die stasie gekom, is ons goed op die trokke gegooi, sodat byna niks daarvan heel kon bly nie. Ons is in die trokke en gaan in die rigting van Barberton. Te Watervalonder aangekom, het my jongste kind ook erg siek geword, deur die drink van kondensmelk, want ek kon geen vars melk vir haar kry nie. So kom die een ellende na die ander. Intussen is ons deur die honger geteister, want as ons vir kos vra, word aan ons gesê: “Wait, next station” en daar aangekom, word maar eenvoudig weer dieselfde antwoord gegee. So gaan dit dag na dag en ons moes maar wag tot op Kaapmuiden stasie waar ons die 5de of 6de dag aangekom het. Toe word ons ’n bietjie hopbrood en “corned beef” gegooi (nie gegee nie), maar dit word deur ’n swart man wat vuil was, in sy arms gedra en dan so een vir een stuk in die trokke gegooi, terwyl ons, as ons nie van honger wil omkom nie, dit maar moes gebruik.”
Dan was daar ook die sielkundige aftakeling:
Mevrou J.J. Botha vertel hoe hulle gevange geneem is en wat hulle deurgemaak het op pad na die konsentrasiekamp.
“Op 13 Augustus 1900 is ek by Warmbad, in die distrk Carolina, gevange geneem. Die dag was daar in die nabyheid ’n geveg waarin twee van ons Burgers gewond is. Johnnie Viljoen, ’n neef van my, was aan sy been gewond, maar die Engelse het geweier om hom te laat ry en hy moes loop. Ook my seun moes loop, hoewel hy ernstig gewond was. In die geveg is daar ook ’n Breytenbach doodgeskiet.
Die Engelse het ons toe reeds gevange gehad en die moeder van Breytenbach was saam met ons op die wa. Die lyk het hulle toe by ons op die wa gesit en daar moes dit twee dae lê. Elke keer as daar uitgespan is, is dit van die wa afgehaal, in die son gesit en deur die kakies ondersoek. As een klaar was met die ondersoek, was daar al weer ’n ander een by. Dit is onmoontlik om die toestand waarin die arme moeder verkeer het, te beskryf. Van verdriet het sy lateraan stuiptrekkings gekry. Eers die tweede dag aand het hulle die vader toegelaat om die lyk te gaan begrawe. Die moeder en suster wou hulle nie eens toelaat om saam te gaan nie.”
Bronnelys:
Die Boerevrou 1899 – 1901 – Volume 2: Kampsmarte deur A.W.G. Raath
Stemme uit vrouekampe deur Mev. M.M. Postma
Onthou! deur E.Wessels & A.W.G. Raath
Boerevroue en –kinders in oop vee trokke onderweg na die konsentrasiekamp te Barberton.
Vroue en kinders met hulle skamele besittings in oop NZASM-spoorwegtrokke onderweg na ’n konsentrasiekamp
Boerevroue en –kinders in oop vee trokke onderweg na die konsentrasiekamp te Barberton.