Aan hierdie slagveld het ongeveer 2000 Britse troepe deelgeneem. Lt.kol. A.W. Thorneycroft se instruksies aan sy troepe was duidelik, wanneer hulle Spioenkop aanval mag hulle geen geraas maak nie, hulle mag net hulle bajonette gebruik , geen skoot mag gevuur word nie. Geen rook en geen gesels nie.
Dit was baie vroeg in die oggend en daar was ’n mis reën, af en toe wanneer die reën opgehou het, kon hulle die sterre dof sien skyn, maar dan sak die volgende bui misreën uit. Dit het hulle ure geneem om tot by die plek te kom waarvan hulle die aanval gaan loods. Almal is papnat van die reën sowel as die nat gras waardeur hulle gesukkel het. Hulle sien die baken – die klompie bome naby die kruin. Almal besef dat hulle nou naby aan die Boere moet wees, met gedempte bevele word die kruin genader – al kruipend.
Die berg se kruin is in ’n digte mis gehul. Die Boere bo-op die kop slaap, net die brandwagte is wakker. Een van die brandwagte hoor skielik ’n geskuifel in die gras. Is dit die Britte wat aanval? Toe hy die kodewoord roep en die antwoord kom terug, is dit bevestigend. Die Britte val onmiddellik plat terwyl die Boere hulle magasyne blindelings in die donker leeg skiet.
Die bevel vir die Britte om aan te val word gehoor en ’n luide geskree: “Avenge Majuba!” toe die Britte vorentoe storm. Die Boere verlaat die kop onmiddellik en toe is Spioenkop in die Britte se hande.
Die Britte begin om loopgrawe te grou, maar het baie van hulle toerusting teen die hang van die berg gelos en gou is die grawe en pikke stomp, want die grond is hard en rotsagtig. Met dagbreek toe die mis wegtrek, sien Maj. Gen. Woodgate dat die loopgrawe op die verkeerde plek gegrawe is!
In die laer van die Boere onder aan die voet van Spioenkop is dit baie bedrywig. Die brandwag kom uitasem met die nuus by die laer aan. Daar word dadelik 30 man uitgestuur. Waar hulle bo-op die kruin stilsit en wag vir versterkings, hoor hulle die gekap van die grawe en pikke op die harde rotsagtige grond. Teen 6 uur het die eerste Burgers onder kmdt. Hendrik Prinsloo reeds teen die hang begin uitklim.
Toe die mis wegtrek, bars ’n hewige geweervuur van elke kant op die verbaasde Britte los.
Hulle het vas geglo dat Spioenkop on oorwinbaar was. Toe die mis skielik weer toe sak, word die skietery gestaak.
Toe die mis finaal opklaar, het al die Boere se versterkings opgedaag en tree al die Boere wat lê en wag tot die stryd toe.
Op die noordoostelike hang het die Boere so na aan die Britte gekom dat hulle handgemeen geraak het.
Woodgate het boodskappe gesein, dat hulle water en hulp baie nodig het. Intussen daag nog versterkings op. Die volgehou aanval het Woodgate baie ontstel. Hy en sy staf loop en praat die soldate moed in. Naby die hoof loopgraaf word hy getref deur ’n stuk skrapnel bo die regter oog.
Stadig maar seker begin die Boere ’n houvas op die voorste kruin te kry. Die troepe word heeltyd terug gedwing en teen ongeveer 12 uur is die Britte in ’n benarde posisie. Die geveg is nou op kort afstand en die troepe is uitgeput en baie dors, meeste se water is lankal op en selfs by die verband stasie is daar nie genoeg water vir die gewondes nie.
Teen min of meer een uur, kan die Lancashire Fusiliers nie meer nie en hulle begin met hulle sakdoeke in die lug waai. Toe die Boere egter nader kom, begin hulle weer skiet en die geveg word hervat. Weer gee hulle oor en toe Thorneycroft daarvan hoor, hardloop hy nader en skree aan Jan Cilliers: “I’m commandant here! Take your men back to hell, sir! There is no surrender!” Die poging om die Boere terug te dryf was net gedeeltelik suksesvol. Die Boere se artillerie vervat hulle vuur en dwing die Britte om terug te val na die loopgraaf toe. Teen die aand kom al die Britse offisiere bymekaar en besluit dat daar geen ander uitweg is as om te onttrek nie.
Met dagbreek op die 25ste verken vk. Kemp en sy Burgers die kruin. Hulle vind 322 dooies, 583 gewondes. Van die Britse Garnisoen is daar geen teken nie. Die Boere het weer beheer oor Spioenkop. Aan Boer kant het 58 gesneuwel en 140 is gewond.
Foto’s geneem Januarie 2014
Koördinate: S28°38’53.4” E29°31’00.3”